Vrees met ’n hoofletter
Iemand stuur die anderdag vir haar ’n strokiesprent van ’n beertjie wat aan ’n ballon hang, skryf Irna van Zyl.
“Wat as ek val?” roep die beertjie terwyl hy al hoe hoër styg. “Maar, my engel, wat as jy vlieg?” kom die antwoord.
En somehow gee hierdie prentjie my groot troos.
Die afgelope jaar leef ons almal in meer vrees as ooit tevore. Vrees met ’n hoofletter. My dokter sê tot 70 persent van haar pasiënte ly aan angs en depressie.
Vir my was my eerste reaksie op die pandemie tipies van myself. Hou jou kop af. Met ander woorde: steek dit in die sand en moenie dink nie. My sand was ’n aksielys. ’n Onhaalbare, onmoontlike, verdomde lys: Eerstens my volgende spanningsroman. Sommer ook ’n radiodrama vir RSG, ’n paar
kortverhale vir die ontwykende bundel, ’n jeugroman en natuurlik gedigte oor die kwaliteit van lig in die eerste herfs van die pandemie.
Totdat ek probeer. En besef ek kan nie langer as vyftien minute konsentreer nie.
Dis vrees met ’n hoofletter wat so maak.
Vrees vir mislukking, vrees vir beoordeling, vrees dat ek my eie simpel teikens nie kan haal nie. Dat ek nie aan my verwagtinge gaan voldoen nie.
“Kan ek die vrees verpersoonlik?” vra die lewensafrigter in my lewe. “Wat is dit? Hoe lyk dit? Hoe beweeg dit?”
Ja, lag ek, ek kan aan ’n hele paar resensente dink, moet ek hulle beskryf?
Maar grappies op ’n stokkie.
“Hy is groot en vloeibaar soos ’n inkklad, soos ’n Rorschach-toets. Hy’s ’n donker blerts,” sê ek. “Hy praat nie, maar hy word al hoe groter en hy waggel al hoe nader.”
“So kom ons doop hom Blerts.”
Wanneer Blerts kom, kan ek nie skryf nie. Nie eens probeer nie. Ek verdwyn in ’n wêreld waar
ek klein is en Blerts my plat gesit het. Ek bou ’n hele Krismisboom van selfdenke (eensydige wat-as-vrae) wat wyer en wyer uitkring totdat dit geen verband hou met die werklikheid nie.
“Wat daarvan jy nooi vir Blerts om langs jou te kom sit wanneer jy skryf,” sê my liewe afrigter.
Soos die gemmerkat op die sagste stoel in my studeerkamer? dink ek.
Nooit gesien nie.
Weerloos, soos ’n afgedopte garnaal sal ek wees. Nakend in die strate.
Maar die waarheid is ek gaan Blerts in die oë moet kyk totdat hy begin krimp. Klein, kleiner, kleinste, moet hy word. Ek meen wat is die ergste wat kan gebeur as iemand negatief reageer? Belangriker, wat kan ek leer? Oordeel mense nie maar in elk geval die heeltyd nie?
So stadigaan verskraal Blerts, maar hy verdwyn nooit heeltemal nie. Ek leer om met hom saam te leef. Om hom selfs soms te ignoreer.
Hy sit daar in die stoel terwyl ek tik dat die biesies bewe. Ek word bewus van ’n ligppunt so groot soos ‘n koppiespeld in my binneste. Ek voed die ligkol met stiltes, met boeke, met rus en oefening.
Elke dan en wan keer Blerts en die onsekerheid terug, maar die ligpunt hou ook aan met groei. Eendag, gou, gaan hy hopelik vir Blerts verblind sodat ek kan vlieg.”
Stand a chance to win a copy. Enter the competition here
Op ’n mooi dag is nou beskikbaar. Also available as One Fine Day.
Die artikel was oorspronklik in The Penguin Post gepubliseer, ‘n tydskrif van Penguin Random House South Africa.